Postings

Tuesday 16 October 2012

Die Bybel - Handboek of Reelboek?



Die  Bybel - Handboek of Reëlboek


                                                                                               Stes de Necker

  

Hoeveel maal per dag kry ons te doen met een of ander toestel of instrument waarby daar 'n “Gebruikers Handleiding” (users’ manual) by die verpakking ingesluit is.

Ek wil glo dat die meeste mense hierdie handleidings sorgvuldig deurlees voordat hulle die toestel begin aanmekaarsit of gebruik, maar ek weet ook van talle wat, sonder om die “operating manual” te lees, eenvoudig wegspring en die toestel begin aanmekaarsit soos wat hy/sy dink die onderdele inmekaar pas; gewoonlik met ernstige skade aan die toestel, groot frustrasie vir die huismense en ʼn gekrenkte ego van die “tegnikus”. Dit is vir hierdie mense wat die Engelse uitdrukking: “When all else fail, read the manual” bedoel is.

In die lewe gaan dit presies dieselfde. Ons sien so baie mense wat bloot eenvoudig in enige situasie instorm sonder dat hulle enigsins eers die “users manual” na te slaan. Jong paartjies besluit halsoorkop om te trou sonder die vaagste benul wat die verantwoordelikhede van 'n getroude lewe inhou. Ander gee hulle oor aan die genietinge van hierdie lewe sonder om die gevare van hulle optrede in aanmerking te neem, terwyl ander weer bewustelik daarop uit is om met allerhande soorte praktyke, insluitende dwelms, spiritisme en selfs satanisme, te eksperimenteer.

Elkeen verlang na die dag om onafhanklik en op sy eie te wees. “Ek sal self regkom! Daar is baie wat (op die oog af) op hulle eie regkom!”  Dit lyk soms of baie jongmens maar te gretig is om agter die stroom van “self regkom” aan te gaan uit vrees dat hulle nie “in” sal wees as hulle nie doen wat die ander doen nie. Om deel van die groep te wees is belangriker as om van die groep uitgesluit te word. 

“Vergeet van 'n handleiding; ons weet wat ons doen!”

Ek glo vas dat hierdie verknogtheid aan “groep aanvaarding”, nog altyd te make het met die eng Gereformeerde opleidingstelsel van die verlede. As kind, wat gedurende die vyftigerjare in ʼn streng Gereformeerde huis grootgeword het en in ʼn suiwer Christelik-Nasionale skool skoolgegaan het, was ek in werklikheid nooit toegelaat om vir myself te dink nie. Net jammer ek het dit te laat agtergekom!
Die skool het vir ons besluit hoe ons ons hare moes sny en kam en hoe die skooldrag, wat ons verplig was om te dra, moes lyk. Die skool en onderwysers het vir ons besluit wat ons sal leer en wat ons nie sal leer nie; wanneer ons mag praat en wanneer ons nie mag praat nie; wat ons mag vra en wat ons nie mag vra nie. En bewaar die arme bloedjie wat nie elkeen van hierdie voorskrifte slaafs nakom nie! Hy/sy is baie gou as “anders” geëtiketteer en “anders” was bloot eenvoudig nie aanvaarbaar nie.

Later op universiteit het die universiteits-owerhede besluit in watter rigting ons kan studeer terwyl die kerk vir ons besluit het wat ons op Sondae mag doen en nie mag doen nie. Die Staat het vir ons besluit watter ingange van geboue en parke ons moet gebruik terwyl die Sensor Raad vir ons besluit het wat ons mag lees of nie mag lees nie;  of wat ons mag sien of nie mag sien nie.

Na universiteit moes ons begin werk en wat is die eerste ding wat gebeur? Die werkgewer vertel jou hoe jy jou werk moet doen.

Op hierdie stadium van jou lewe is jy omtrent 25 jaar oud en sedert graad 1, het niemand jou nog ooit geleer om vir jouself te dink nie, want jy was nie veronderstel om vir jouself te dink nie! Die sisteem het van jou ʼn  professionele na-aaper gemaak!

Ek onthou hoe ek by geleentheid op universiteit van ʼn dosent verskil het oor een of ander ekonomiese teorie. Heel gou is ek in geen onduidelike terme daarop gewys dat voorgraadse studie nie die plek is om van ʼn dosent te verskil nie! Nodeloos om te sê dat, toe ek hierdie verduideliking ook nie wou aanvaar nie, ek desnieteenstaande drie opeenvolgende pogings, nooit daardie vak kon slaag nie! Die opleidingstelsel van universiteite het ook maar min verskil van die stelsel wat in ons skole gegeld het. Solank jy net, soos wat dit 'n goeie papegaai betaam, bloot net wat jy geleer is in ʼn eksamen weergegee het, was jou uiteindelike kwalifikasie so te sê gewaarborg.

Hiermee wil ek egter nie sê dat álle universiteit dosente en lektore slawe van die opleidingstelsel van daardie tyd was nie. Genadiglik was daar ook dié dosente wat selfstudie en onafhanklike denke aangemoedig het en erkenning daaraan gegee het.

In baie gevalle was dit egter veiliger om deel van die hoofstroom te bly, aangesien jou kanse op sukses soveel groter was en dit voorgekom het of, as jy deel van die hoofstroom is, jy seker nie te  vêr verkeerd kan wees nie.
Hoekom sal enigeen dan bekommerd wees oor 'n handleiding vir die lewe, wanneer daar so vele andere was wat vír jou besluit het wat reg en verkeerd was. Selfs jou uiteindelike saligheid was weliswaar gewaarborg, solank jy net nie te veel opskudding veroorsaak nie!

Dit is juis hierdie beskouing wat ten grondslag lê vir die verskil in die siening van die  Bybel as bloot maar 'n soort handboek of riglyn, “guide”, vir jou lewe of die siening dat die Bybel die een en enigste “reëlboek” vir jou lewe is.

Die Bybel is nie maar net 'n gids of breë riglyn vir die lewe nie!  Dit is 'n lewensnoodsaaklike “reëlboek” of “wetboek” wat God se voorskrifte oor hoe jy jou lewe moet lei, duidelik en ondubbelsinnig uitspel. Hoe ons moet leef, hoe ons in God moet glo, hoe ons mekaar moet liefhê, hoe ons onsself moet gedra, hoe ons kinders van God moet wees en aan die ander kant wat vir ons verbode is; moord, diefstal, haat , nyd, sondige begeertes, leuens,  egskeiding  ens. Dit is die reëls van die spel en daar bestaan min tweede kanse as jy daardie reëls verbreek. Net soos in sport bestaan daar nie 'n enkele sportsoort ter wêreld wat nie oor reëls beskik nie en daar bestaan ook nie iets soos 'n speler wat maar self kan besluit watter van die reëls hy wil nakom en watter hy nie wil nakom nie!

In die ongenaakbare spel van die lewe hoor ons egter al hoe meer van die sogenaamde “vrye wil” van die mens. Die probleem met hierdie siening is dat baie mense dit beskou as 'n soort “carte blanche” om te doen wat hy wil.

In my boek “Verborge Skatte van die Bybel” het ek gesê dat, na die sondeval, die mens 'n morele gewete bekom het en voortaan self sou moes kies tussen reg en verkeerd. Terwyl daar wel 'n element van “vrye wil” in hierdie eienskap van die mens bestaan, beteken dit nog lank nie dat ons dit wat onaanvaarbaar vir God is, daarmee kan regverdig nie! Ieder en elke keuse wat ons maak moet nog altyd gemeet word aan die maatstawwe wat God vir ons in Sy woord daargestel het.

Dieselfde geld ook vir die sogenaamde “vrye wil” van die mens. Terwyl ons sekerlik oor die reg beskik om volgens ons wil op te tree, moet ons nog altyd vir onsself die vraag afvra: Wat sal God wil dat ek moet doen. “WAT SOU JESUS DOEN?” (WWJD – “What would Jesus do”)

Vrye wil, net soos vrye keuse, is nie onbeperkte regte nie!  Indien enigiets, is beide  'n toets vir ons lewe; God se toets om te bepaal of ons tussen reg en verkeerd kan onderskei.

In 2 Tim. 3: 16 staan daar: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek.” 

Hiermee sê God vir ons baie duidelik dat as ons 'n lewe van gehoorsaamheid aan Hom wil lei; dwalinge wil vermy, dit wat verkeerd is in ons lewe wil regstel en die regte leefwyse wil handhaaf, ons die Bybelse voorskrifte moet nakom. 

Daar bestaan GEEN ander maatstawwe vir ons lewe, as die wat in die Bybel vir ons gegee is nie!

Wat ons ook al doen of besluit, is óf reg óf verkeerd. Daar bestaan nie iets soos 'n goue middeweg, ('n soort van 'n riglyn), nie!

Jesus self sê vir ons dat daar nie 'n middeweg is nie. In Luk. 11: 23 staan daar: “Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.” Ons kan nie God en Mammon dien nie.  (Matt. 6: 24)

In die inleiding van hierdie boek het ek gesê dat die Bybel nie 'n natuurwetenskaplike handboek is wat korrekte geografiese feite probeer gee, of 'n geskiedenis handboek is wat korrekte geskiedenis inligting probeer verskaf nie. Die antiek Bybelse manuskripte is in die gewone spreektaal, binne die normale begrips raamwerk van die antieke tyd, geskryf. Dit was verder ook nooit bedoel om 'n letterkundige werk te wees nie! Dit is moontlik om hierdie rede dat dit baie keer wil lyk asof die Bybel nie altyd “betroubare” inligting oor sake gee nie. In Matt. 28: 20 sê Jesus egter: “... leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
In Psalm 119 vers 4 sê die Psalmdigter: “U het u bevele gegee dat dit ten volle uitgevoer moet word.” en vêrder in vers 105: “U woord is die lamp wat my die wegwys, die lig op my pad.” 

Liewe jongmens, in dieselfde Psalm 119; 9 staan daar: “Hoe kan 'n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord.”  In die Bybel gaan dit nie oor ingewikkelde teologiese leerstellings of oor intelligente akademiese dogmatiek nie. Dit gaan in die eerste plek oor God se liefde vir ons en ons liefde vir mekaar.

In sy artikel “Die Bybel bekoor met eenvoud” (Sien “Verborge Skatte van die Bybel” op Bld. 388) sê Prof. Piet Strauss, vorige Moderator van die  NG Kerk,  : “Die Skrif laat ons nie met 'n lugleegte of 'n verleentheid nie. Die Woord en Gees bevry ons om 'n groot, eenvoudige Skrif waarheid na te jaag: 'n lewe tot eer van God! Hoe nader jy aan die Woord lewe, hoe duideliker en eenvoudiger word die betekenis daarvan vir jou lewe. 'n Eenvoud wat vandag nog bekoor. 'n Eenvoud wat eenvoudig en ten diepste tot geloof en gehoorsaamheid lei.”

Miskien sal jy nou vir my sê: “As die Bybel dan so duidelik is, hoekom bestaan daar dan soveel hulpmiddels en geskrifte om ons te help om die Bybel te verstaan?”

In “Verborge Skatte van die Bybel” het ek gesê dat ons nie almal predikers hoef te wees om die Bybel met insig en begrip te lees nie!  Al die ingewikkelde teorieë oor sogenaamde dualisme en monisme en pluralisme en al die ander –ismes wat daar mag bestaan, beteken uiteindelik nie veel as God self nie vir ons die Bybel open nie.  In Jer. 33: 3 sê die Here vir Jeremia: “Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.”

Hoeveel keer het dit al met jou gebeur dat jy vir antwoorde in die Bybel soek, maar dit bloot eenvoudig net nie kry nie! Ons lees sekere gedeeltes van die Bybel oor en oor totdat ons naderhand elke woord en vers daarvan uit ons koppe ken, maar steeds gee dit nie vir ons die antwoord of berusting wat ons soek nie.  En dan, op ʼn goeie dag, lees ons weer diesélfde gedeelte, maar dié keer is dit anders. Meteens is dit of die teks vir ons ʼn héél nuwe en diepere betekenis kry en vir die eerste keer verstaan ons regtig wat die Skrif vir ons wil sê. Dit is wat ek bedoel met die Here vra dat Hy self vir ons die Bybel “oopmaak”; dat Hy self vir jou en my die betekenis van die Skrif uitlê (openbaar). Dán eers kry die skrifgedeelte vir ons wáre betekenis; dan eers groei ons werklik in ons geloof.

Maar weereens, dit beteken ook nie dat ons sónder die bediening van die Woord kan klaarkom nie! In Rom. 10: 14 – 15 sê Paulus: “En hoe kan jy van Hom (Jesus) hoor sonder iemand wat preek?  En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie?”  Die  Engelse King James Bybel stel dit soos volg in Rom 10: 17 “……faith cometh by hearing, and hearing by the word of God.”

Die Bybel is nie maar net 'n “user friendly guide” vir ons lewe nie. Dit is die Woord van God self!  (sacramentum)  In die Bybel ontmoet ons die God van die Woord. Calvyn het hierna verwys as “dei loquentis personae”.  In die Bybel kom God sélf aan die woord; is Hy sélf die Woord.

Die Woord van God is daarom nie bloot maar net 'n algemene riglyn of teologiese leerstelling nie. God praat met ons met die doel om ons te verander. Om ons van ons verkeerde weë te laat afsien, ons slegte gewoontes te laat staan, ons hardkoppigheid te laat vaar. 

Onthou altyd dat God jou nooit in die steek sal laat nie. Hy weet wat jy nodig het nog voordat jy Hom gevra het. Hy ken jou bekommernis. Hy ken jou vrese. Niks is vir Hom verborge nie.

In Matt.7 :7 sê Jesus self: “Vra en vir julle sal gegee word; soek en julle sal kry; klop en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”  En dan in vers 9: “Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra?”

Die Bybel is die enigste boek ter wêreld wat onder die gesag van God geskryf is!



No comments:

Post a Comment