Postings

Thursday 18 October 2012

Judas en Pilatus - Skurke of Uitverkorenes.



JUDAS EN PILATUS

Skurke of Uitverkorenes  


                                                                                                 Stes de Necker


Judas

Joh. 13: 18 “Ek praat nie van julle almal nie; Ek weet wie Ek uitgekies het. Maar die Skrif moet vervul word: ‘Hy wat van My brood eet, het My in die rug gesteek.’  en verder in vers 21: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.”

Die verdere verloop van wat hierna gebeur het, word soos volg in die vier evangelies uiteengesit:

In Joh. 13 vanaf vers 23 lees ons: “ (23) Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, het net langs Hom aan tafel gesit. (24) Simon Petrus beduie toe vir hom dat hy moet vra wie dit is wat Jesus bedoel. (25) Hy leun toe oor na Jesus se kant en vra vir Hom: ‘Here, wie is dit?”  (26) Jesus het geantwoord: ‘Dit is die een vir wie Ek ʼn stukkie brood wat Ek in die sous ingesteek het, sal gee. Hy vat toe ʼn stukkie brood, steek dit in die sous en gee dit vir Judas seun van Simon Iskariot. (27)  En nadat Judas die stukkie brood gevat het, het die Satan in hom gevaar. Toe sê Jesus vir hom: ‘Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!”

Matt. 26 vanaf vers 20: “(20) Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf. (21) Terwyl hulle eet sê Hy: ‘Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.’ en verder in vers 25: “Toe sê Judas, Sy verraaier: ‘Is dit miskien ek, Rabbi?” Jesus antwoord: ‘Dit is soos jy sê!”

Mark. 14 vanaf vers 18: “ (18) Terwyl hulle sit en eet sê Hy: ‘Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.” en verder in vers 20: “Dit is een van julle twaalf, die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek.” en verder in vers 45: “Toe hy daar kom (Judas) het hy reguit na Jesus toe gegaan en gesê: ‘Rabbi!’ en Hom met ʼn soen gegroet.”

Luk. 22 vanaf vers 21: (21) Maar kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met myne hier op die tafel.” en verder in vers 48: “Maar Jesus sê vir hom: Judas, verraai jy die Seun van die mens met ʼn soen?”

In die 5e eeue n.C. skryf Augustinus: “The true image of the Hebrew is Judas Iscariot, who sells the Lord for silver. The Jew can never understand the Scriptures and forever will bear the guilt for the death of Jesus."

Judas jou skurk! … of was hy? 

Wat sê die Ou Testament oor die feit dat Jesus verraai sou word?

In Sagaria 11: 9 lees ons dat nadat die Here vir Sagaria gesê het hy moet ʼn herder vir die slagskape word:  “ Ek het gesê: ‘Ek gaan julle nie meer oppas nie. Laat die wat wil doodgaan, doodgaan. Laat die wat wil wegraak, wegraak. En laat die wat oorbly, mekaar opvreet.” en verder in vers 12-13: “Ek het vir hulle gesê: “As julle wil, gee my my loon; as julle nie wil nie laat staan dit.’ Hulle het toe my loon afgeweeg, dertig stukke silwer. (13) Die Here het vir my gesê: ‘Gooi dit vir die pottebakker.” En dit was nogal die kosbare loon wat hulle gemeen het ek werd is! Maar ek het die dertig stukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi.”

Lees wat staan in Matt. 26 vanaf vers 3 ! “Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry. Hy het die dertig silwer muntstukke teruggebring na die priesterhoofde en die familiehoofde (4) en vir hulle gesê: ‘Ek het gesondig. Ek het ʼn onskuldige man verraai.’ Maar hulle antwoord: ‘Wat het ons daarmee te doen? dit is jou saak!’ (5) Judas het toe die geld in die tempel in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang. (6) Die priesterhoofde het die geld opgetel en gesê: ‘Dit is nie geoorloof om dit in die tempelfonds te stort nie, want dit is bloedgeld. (7) Hulle besluit toe om daarmee die grond van die pottebakker te koop as ʼn begraafplaas vir vreemdelinge.”

Sagaria se loon omdat hy die skape “verraai” het (nie meer vir hulle wou sorg nie) se loon was dertig stukke silwer. Judas se loon omdat hy Jesus verraai het, was ook dertig stukke silwer!

Was dit alreeds God se wil dat Judas die een moes wees wat vir Jesus sou verraai, lank voordat Judas nog eers daaraan gedink het om dit te doen?  Verseker was dit, want Jesus self het die een wat Hom sou verraai lank tevore reeds uitgekies! (Joh.13: 18)

Die Judas Evangelie

In 1945 het ʼn groep Egiptiese platteland bewoners, ʼn verstommende ontdekking gemaak. Hulle het afgekom op ʼn erdekruik met ʼn aantal antieke manuskripte daarin nie ver van die stad Nag Hammadi.

Na ʼn swerftog van bykans 55 jaar, het ʼn fragment van een van die manuskripte in die besit gekom van ene  Professor Rodolphe Kasser van die Universiteit van Genéve. Kasser is een van die wêreld se voorste deskundiges op die gebied van Koptiese geskrifte. (Sedert 1965 is Kasser hoof van die Switserse Sending vir Koptiese Argeologie in Kellia in die suide van Egipte.)

In Julie 2001, bevestig Kasser dat die eerste reël van die fragment lees: “Die geheime weergawe van die openbaring wat Jesus aan Judas Iskariot meegedeel het.”

Intussen het C14 toetse (koolstof datering) aan die Universiteit van Arizona in die VSA, bevestig dat die manuskrip uit die tydperk 220-340 n.C. dateer.

ʼn Aansienlike bedrag geld is deur die National Geographic Society van Amerika bewillig vir die volle restourasie van die manuskrip, en in 2006, word die manuskrip vir die eerste keer in die National Geographic Society Museum in Washington DC ten toon gestel.

Volgens hierdie manuskrip, wat vandag as die (apokriewe) “Evangelie van Judas” bekend is, was Judas die dissipel wat Jesus beter as enige van die ander verstaan het.

Na Jesus se opstanding het hy, volgens die Lukas evangelie, aan twee van Sy dissipels wat op pad Emmaus toe was, ʼn dorpie 12 kilometer van Jerusalem af, verskyn. In Luk. 27 lees ons: “Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê. Die Bybel sê nie vir ons wie hierdie twee dissipels was nie, maar ons kan sekerlik aanneem dat Jesus ook die uitsprake oor Sy verraaiing sou uitlê!

Dit blyk nou dat Judas die skurk in werklikheid Jesus se getrouste dissipel was.

In die Evangelies van Matteus, Markus en Lukas, waarsku Jesus vir Judas: “… maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word.” 

Na die verraad het Judas ʼn bittere sielswroeging van selfverwyt en spyt deurgemaak. Voor die priester- en familiehoofde sê Judas nie dat hy ʼn fout gemaak het of dat hy verkeerd was nie, hy bely dat hy gesondig het, en het daar omgedraai en hom self gaan ophang. As hy dit voor die priesterhoofde bely het, hoeveel te meer sou hy dit nie voor God bely het nie.

Eeue voordat Judas nog bestaan het, was sy lot reeds beslis; God het dit voorbestem dat hy eendag Christus sou verraai!

Jesus het nie vir Judas teen die toorn van God gewaarsku nie; Jesus het vir Judas teen dit wat hy na die verraad hier op aarde sou moes deurmaak, gewaarsku.

Pontius Pilatus

Pontius Pilatus was ʼn Goewerneur van Judea in die Romeinse Ryk onder Keiser Tiberius in die eerste eeu n.C. Volgens die geskiedkundiges was Pilatus ʼn ridder van die Samniete familie stam van Pontii, en vandaar sy naam Pontius. 

In die Nuwe Testament word Pilatus voorgestel as ʼn weifelagtige swakkeling wat nie sy eie opinie kon opmaak nie. In Matt. 27: 17 lees ons dat Pilatus die skare vra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat: Jesus Barabbas, of Jesus wat Christus genoem word?”

Volgens Matt. 27: 18, het Pilatus geweet dat Jesus uit afguns deur die priesterhoofde uitgelewer was en dan in vers 19 lees ons dat Pilatus se vrou vir hom ʼn boodskap gestuur het: “Moet tog niks met daardie onskuldige man te doen hê nie, want ek het vannag ʼn vreeslike droom oor hom gehad.”

Nadat hy die boodskap van sy vrou ontvang het, kapituleer Pilatus sy verantwoordelikheid as regter, en in vers 24 lees ons: “Toe Pilatus sien dit help niks nie en dat daar eerder ʼn oproer kom, het hy water gevat en voor die skare sy hande gewas en gesê: ‘Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid.”

Wát ʼn vermyding van ʼn regter se verantwoordelikheid!

Stel jouself voor dat in ons dag, ʼn persoon van moord aangekla word maar die regter vind die persoon onskuldig. In plaas daarvan dat hy die persoon vryspreek en vrylaat, sê hy nog steeds, die mense moet maar self besluit wat hulle met dié een wil doen!

Dit is nou oerwoud geregtigheid as jy al ooit daarvan gehoor het!

Maar kom ons kyk eers ʼn bietjie van nader na die man Pontius Pilatus. Soos ek reeds gesê het was hy ʼn goewerneur van Judea in die Romeinse regering vanaf nagenoeg 26 tot 36 n.C.

Op ʼn kalksteen blok wat in 1961 in die ruïnes van die antieke Romeinse amfiteater by “Caesarea Maritima”, destyds die hoofstad van Judea, gevind is, verskyn die inskripsie “Toegewyd aan Tiberius, Keiser van Rome” deur Pilatus van Tiberium.  Die toewyding lees dat hy “ECTVS IUDA” was, “praefectus Iudaeae” beteken. Hiervolgens sou dit beteken dat Pilatus in werklikheid ʼn Prefek van die Romeinse Ryk was en nie noodwendig Goewerneur nie.  Hierdie steen, wat bekend staan as die “Pilatus Steen”, word tans in die Israel Museum in Jerusalem bewaar.


  
Die pligte van die goewerneurs van die Romeinse regering was hoofsaaklik die invordering van belastings en die toepassing en implementering van die wette en voorskrifte van die Keiser. Vir dié doel was die goewerneur ook in bevel van ʼn gedeelte van die Romeins leër in sy gebied, en het hy as regter oor ʼn wye reeks bevoegdhede beskik om oor sake in sy streek te beslis.

Philo (Griekse filosoof 20 v.C. tot 50 n.C. - ook bekend as “Philo van Alexandrië” waarna verwys is in Hoofstuk 5 van Volume I) skryf oor Pilatus dat hy: “ʼn Wraaksugtige mens met ʼn woedende geaardheid was. “Hy was van nature onbuigsaam in sy opvattinge; ʼn mengsel van eiegeregtigheid en meedoënloosheid.”

Gegewe die karakter van Pilatus as ʼn meedoënlose outokraat wat geen teëspraak geduld het nie, kan ʼn mens jou beswaarlik voorstel dat dit dieselfde persoon is wat in die Bybel as ʼn weifelagtige swakkeling voorgestel word.

As goewerneur sou Pilatus nie vir ʼn oomblik getwyfel het om Jesus, ʼn onderdaan van die Romeinse regering en daarby nog ʼn Jood, summier te vonnis om tereggestel te word nie.  Hy was eerder sy hande in onskuld en laat bring nog daarby ʼn inskripsie aan die bokant van Jesus se kruis aan wat sê “Dit is die Koning van die Jode.”

Die Bybel sê nie vir ons wat uiteindelik van Pilatus geword het nie, maar in die apokriewe “Passion of Saints Peter and Paul" (Die passie van Petrus en Paulus) word daar geskryf dat Pilatus later deur Keiser Tiberius tereggestel is en dat sy lyk in ʼn meer in die Sibbillini gebergtes gegooi is. Hierdie Meer staan vandag nog bekend as die “Lago di Pilato” of “Meer van Pilatus”.

In die Nuwe Testament word daar net een keer verwys na Pilatus se vrou in dit is in Matt. 27: 18. “Moet tog niks met daardie onskuldige man te doen hê nie, want ek het vannag ʼn vreeslike droom oor hom gehad.”

In die apokriewe boek “Die evangelie van Nikodemus” beskryf Nikodemus die droom van Pilatus se vrou in meer besonderhede. Die naam “Procula” is afgelei deur die Latynse vertaling van dié manuskrip. In latere geskrifte word sy na verwys as “Claudia”. Of dit egter dieselfde Claudia is na wie Paulus in 2 Tim. 4: 21 verwys “ … Claudia en al die ander broers stuur vir jou groete.”, is egter nie seker nie.

In ʼn brief wat na bewering deur Claudia geskryf is na Pilatus se dood, en wat in April 1929 in die Pictorial Review Magazine gepubliseer is, skryf sy dat sy Jesus gevra het om haar seun, Pilo, se gebreklike voet te genees en dat Jesus aan haar versoek voldoen het. Claudia word in die Oosterse- Etiopiese Ortodokse kerke as heilige beskou. 

Eeue voor Christus se geboorte het die Israelitiese profete reeds Sy geboorte in die Ou Testament voorspel en aangeteken.  Die Ou Testament  bevat nie minder as 300 profesieë wat Sy koms voorspel nie. Elkeen van hierdie profesieë het waar geword.
 
Ps. 22: 12-19. maar veral vers 19: “Hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel.”

Jesaja 53: 2-10 maar veral vers 5: “Oor ons oortredings is hy deurboor, oor ons sondes is hy verbrysel.”

Net soos in die geval van Judas, was Christus se soendood aan die kruis reeds eeue tevore deur God voorbestem. Om hierdie onverdiende straf te kon ontvang, was daar ʼn regter nodig wat Hom onskuldig moes bevind, maar nog steeds oor te gee om gekruisig te word. Hierdie regter was Pilatus; die meedoënlose outokraat wat nie sou huiwer om enigiemand anders summier tot die dood te veroordeel nie, maar wat in Jesus se saak, sy hande in onskuld was en verklaar: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie.” Pilatus se lot was reeds eeue voor sy geboorte verseël en net soos Judas, sterf hy ook ʼn skanddood.

Sag.11: 13 “Die Here het vir my gesê: Gooi dit vir die pottebakker!”  Matt. 26: “Judas het toe die geld in die tempel in gegooi…. (vers 7) …. “Hulle besluit toe om daarmee die grond van die pottebakker te koop … “

Die vraag is: Sal ʼn God van geregtigheid, mense soos Judas en Pilatus vooraf bestem om Sy wil op aarde uit te voer, en hulle dan nog steeds aan die ewige verderf oorlaat?
  
In Romeine lees ons: “ Vir Moses het Hy (God) gesê: ‘Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.” (woord tussen hakies eie byvoeging)

Temper altyd jou oordeel met verdraagsaamheid!






No comments:

Post a Comment