Postings

Thursday 18 October 2012

Verlowing - Wat beteken dit om verloof te raak?



Wat beteken dit om verloof te raak


                                                                                               Stes de Necker



Ons siening van ʼn verlowing kom nie presies ooreen met die betekenis wat verlowing in die Bybelse tyd gehad het nie. In Israel van ouds is die verlowings band so ernstig beskou dat dit in baie opsigte gesien en behandel is asof die paartjie reeds getroud was.

In Deuteronomium 22: 23-27 word beskryf hoe daar met ʼn verloofde meisie gehandel moet word indien sy met ʼn man geslagsgemeenskap gehad het. Indien sy vrywillig daaraan meegedoen het, moet sy en die man met klippe doodgegooi word. Wanneer sy egter teen haar wil verkrag is, dan moet die man sterf. Deuteronomium 22: 21 stel dit duidelik dat ʼn meisie, wat nie getroud is nie, met klippe doodgegooi moes word “omdat sy ʼn ongehoorde ding in Israel gedoen het deurdat sy met ʼn man geslagsgemeenskap gehad het terwyl sy nog ongetroud was.”

Voor huwelike seks, veral vir ʼn meisie, was dus geheel en al taboe, terwyl dit wil voorkom of daar, in die geval van die man, meer genadiglik opgetree is.

Manlike chauvinisme is niks nuuts nie!

Die grootste ooreenkoms tussen die Bybelse siening van die verlowing en vandag se siening daarvan, is die feit dat in beide gevalle, verlowing gesien word, as ʼn voorlopige binding met die oog op ʼn huwelik. Anders as in die Bybelse tyd egter, word geslagsgemeenskap tydens die verlowing, vandag as bykans vanselfsprekend beskou.

In die geval van Josef en Maria kom die verbod op voor huwelike seks duidelik na vore in Matt. 1: 19, “Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie….”  Hoewel Josef en Maria verloof was, was sy nog ʼn maagd.

In 2 Kor. 11: 2 sê Paulus:  “Ek waak oor julle met ʼn ywer wat van God kom, want julle is soos ʼn jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring.”

In hierdie uitspraak van Paulus is dit duidelik dat hy met “vlekkeloos” verwys na die bruid se maagdskap.

In die Hebreeuse vertaling word daar na twee konsepte verwys as deel van die verlowing. Eerstens word verwys na “erusinwat in Engels “betrothal” beteken. In Judaïsme word daar ʼn baie spesifieke onderskeid getref tussen “betrothal” en “engagement” of bloot verlowing soos wat ons dit ken.  “Betrothal” word beskou as is ʼn baie ernstiger liefdes verbintenis as verlowing, wat in Hebreeus as “shidduchi” bekend staan. Die werklike huwelikseremonie staan in Hebreeus bekend as “nissu’in”.

In Griekse word daar na die verlowing en die eintlike huwelik seremonie verwys as “gamos” en “engeysis”.  In die Griekse ortodokse kerk was dit in die verlede altyd die gebruik dat die verlowing (“betrothal”) seremonie in die voorportaal van die kerk plaasvind, om daardeur die paartjie se eerste toegang tot die huwelik status aan te dui. Die gee van ʼn verloofring is weer van die Romeinse huweliksreg oorgeneem waar die man, nadat hy trou aan die meisie gesweer het, aan haar die ring gee.

Volgens Griekse gebruik gee beide die meisie en die man vir mekaar ʼn ring. In die geval van die man is sy ring terselfdertyd ook die trouring, maar word dit aan die  regterhand gedra.  

Vind nog interessante artikels op my blog.
Kliek net   http://stesdeneckers.blogspot.com 


No comments:

Post a Comment