Postings

Tuesday 30 October 2012

Verandering en die Kerk.



Verandering en die Kerk

                                                                                                 Stes de Necker

Inleiding

Verandering in ons wêreld is so deel van die lewe soos geboorte en dood. Niks bly onveranderlik nie. Nie ons, nie ons omgewing, nie ons oortuiginge en nie ons gewoontes en gebruike bly dieselfde nie. Alles verander en tot die mate waarin hierdie veranderinge om en in ons plaasvind, moet ons as mense by sulke veranderde omstandighede aanpas.

Net so ook verander die Kerk.

Die Kerk van Jesus is nie in die geboue en historiese monumente van die Christendom gevestig nie. Die Kerk is óns. Ek en jy. Medegelowiges wat saamkom om na die Woord van God te luister en om, as gemeentes, God te dien en te aanbid rondom die suiwere bediening van die Woord.

Verandering en vernuwing

Die Kerk is 'n “geloofsinstelling” waar medegelowiges met mekaar en met God verbind word deur die soen verdienste van ons Here Jesus Christus.  Jesus Christus, en nie die leraars of die kerkraad of die sinode, is die Hoof van die Kerk nie en daarom is die voortbestaan van die Kerk nie in die hande van mense nie, maar in die geloof in Jesus Christus.

Verandering en vernuwing binne die Kerk behoort 'n voortdurende proses te wees, maar dan moet dit altyd daarom gaan om 'n beter en heiliger Kerk vir Jesus te wees. Verandering behoort nooit gemeet te word aan die populariteit of die aandrang van mense daarvoor nie, maar aan die getrouheid en gebondenheid aan die Woord van God. Verandering moet altyd geanker wees in die onveranderlike boodskap van die Bybel en nie oorgelaat te word aan die voor- en afkeure van mense nie.

Enige verandering of vernuwing binne die Kerk van Jesus, moet altyd aan hierdie beginsel getoets word: Is die verandering (of vernuwing) vir God aanvaarbaar?  Nie vir die gemeente of die samelewing waarbinne ons bestaan nie, maar vir God. 

Veranderinge in die geskiedenis van die Kerk

Sedert sy ontstaan was die Kerk nog altyd aan veranderinge blootgestel. In die Nuwe Testament lees ons dikwels van die veranderinge wat daar, reeds sedert die eerste eeu na Christus, in die Kerk plaasgevind het. 

In Handelinge 8 word verwys na Simon, die Towenaar van Samaria wat deur Satan gebruik was om die kerk van God te infiltreer en te ondermyn. Die Samaritane het hom selfs as God se verkose verteenwoordiger beskou! Maar in Han. 8: 22-23 sê Petrus vir hom dat hy hom “in ʼn gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid” bevind.

In 60 n.C. skryf Judas, die broer van Jakobus en Jesus, dat die gelowiges moet stry vir die geloof wat eenmaal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het. In vers 4 sê Judas: “Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere (kerk) binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van God.”  (Woord tussen hakies eie byvoeging)

Ná Judas waarsku Paulus die gemeente in Thessalonika: “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk.” (2 Tess. 2: 7) en 5 jaar later waarsku hy die Korintiërs in 2 Kor. 11: “… omdat julle so maklik daarmee genoeë neem as iemand ʼn ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het…” en verder in verse 13-15: “Sulke mense is vals profete; hulle gaan oneerlik te werk deur voor te gee dat hulle apostels van Christus is. En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as ʼn engel van die lig. Daarom is dit ook nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie.” 

Aan die einde van die 1e eeu n.C. skryf ʼn bejaarde apostel Johannes dat hy tydens sy bediening te make gehad het met dwaalleringe wat wyer verspreid was as in die dae van Judas en Paulus. In die derde brief van Johannes skryf hy in verse 9 en 10: “Ek het ʼn briefie aan julle gemeente geskrywe, maar Diotrefes, wat danig daarop gesteld is dat hy hulle voorganger is, aanvaar nie ons gesag nie. Daarom sal ek die dinge wat hy doen, ter sprake bring as ek daarheen kom: hy versprei slegte en vals gerugte oor ons; en asof dit nie genoeg is nie, ontvang hy self ook nie die medegelowiges nie, en dié wat dit wil doen belet hy en ban hy uit die gemeente.”

Slot

Die Kerk van Jesus moet voortdurend aanpas by veranderde omstandighede, maar moet in sy wese nog altyd Kerk bly!

Bedienings style, kleredrag, sang, musikale begeleiding, die gebruik van tegnologiese hulpmiddele in die erediens en selfs aanpassings in die liturgie, (verloop van die erediens) moet altyd aanpas by die onveranderlike waardes en kern-begrippe van die Bybel. Die resultaat van verandering en vernuwing binne die Kerk van Jesus moet nooit gemeet word in terme van bywoning getalle van lidmate of die uitslae van van mensgemaakte opnames of sosiologiese navorsing nie.

Die resultaat van suksesvolle verandering moet in die eerste instansie gemeet word aan elke lidmaat se opregtheid van geloof en sy/haar gebondenheid en getrouheid aan die Woord van God.    

Verandering en vernuwing in die Kerk gaan in die eerste instansie nie daaroor of dit vir die mens aanvaarbaar is of nie, maar of dit vir God aanvaarbaar is!


Vind nog interessante artikels op my blog.
Kliek  http://stesdeneckers.blogspot.com


No comments:

Post a Comment