Postings

Monday 22 October 2012

Ontstaan en geskiedenis van die Bybel.




DIE ONTSTAAN VAN DIE BYBEL

God se Brief aan jou

                                                                                           
   Stes de Necker


Nota:
Om die Bybel ten volle te verstaan en te waardeer, is dit nodig dat ons as Christene oor 'n basiese kennis van die ontstaan en geskiedenis van die Bybel beskik.

In die Bybel, God se brief aan jou, is God self aan die woord en daarom is dit so uiters noodsaaklik om te weet wat en hoekom God wil hê ons moet hoor.

Die Bybel is die enigste boek ter wêreld waarvan God self die outeur is en wanneer ons verstaan hoekom God die Bybel in sy bestaande vorm en formaat vir ons gegee het, dan maak dit vir ons 'n heel nuwe horison oop om die Bybel met soveel meer opwinding en verwagting te lees!


1.   Betekenis van die woord Bybel

Die Afrikaanse woord "Bybel" is afgelei van die Griekse woord “biblia” wat "boeke" beteken. Die Bybel kan in werklikheid as ʼn biblioteek beskou word, nie alleen weens die getal boeke wat daarin opgeneem is nie (66), maar ook in terme van die verskeidenheid van die boeke daarin. Die woord “biblia”, soos wat die vroeë Christene dit genoem het, was dus ʼn heel gepaste beskrywing van die Bybel.

2.  Samestelling van die Bybel

Die Bybel bestaan uit twee gedeeltes, die Ou Testament en die Nuwe Testament. Die woord "testament" is 'n vertaling van die Hebreeus berith (of die Grieks diatheke)  wat “ooreenkoms” beteken. Die twee Testamente saam bestaan uit 66 boeke – 39 boeke in die Ou Testament en 27 boeke in die Nuwe Testament. Die Ou Testament handel hoofsaaklik met die eerste of “ou” verbond wat God met die volk Israel gesluit het, terwyl die Nuwe Testament handel oor die “nuwe” verbond wat Christus by die laaste Paasmaaltyd (saam met Sy dissipels), ingestel het. 

Die Ou Testament, wat ook die Joodse Bybel is, is oorspronklik in Hebreeus en Aramees geskryf. Die Ou Testament van die Afrikaanse Bybel bevat presies dieselfde boeke as die Joodse Bybel, behalwe dat hulle in 'n ander volgorde gerangskik is.

Die Nuwe Testament is oorspronklik in Grieks geskryf. Die vier Evangelies is deur dissipels van Jesus geskryf en beskryf almal dieselfde boodskap en gebeurtenisse tydens Jesus se lewe op aarde, maar elkeen vanuit sy eie perspektief

Die woord "Evangelie" kom van die Grieks euangelion, wat "goeie nuus" beteken. Die Handelinge van die Apostels handel met die vroeë Christelike kerk en die uitdra van die Evangelie na die res van die antieke wêreld terwyl die Briewe van die Nuwe Testament, deur verskillende outeurs (onder andere die apostels Paulus en Petrus), aan spesifieke kerke, groepe of persone geskryf.

Openbaring, die laaste boek in die Bybel, is 'n visioen wat God aan die apostel Johannes geopenbaar het en beskryf die voleinding van die Evangelie van Jesus Christus op aarde.

3. Hoofstukke en vers verwysings

Die boeke van die Bybel is nie oorspronklik met hoofstuk- en vers nommers geskryf nie. 'n Engelse teoloog en Bybelkundige, Stephen Langton,  het vroeg in die 13de eeu n.C. die hoofstuknommers (soos wat dit vandag lyk) in die Engelse Bybel aangebring. In die Joodse Bybel is vers verdeling egter reeds vanaf die 6de eeu n.C. gebruik, en hierdie sisteem is in die 16de eeu n.C. deur die Franse drukkers, Henri en Robert Estienne, in die Bybel ingevoer.

4.  Wie was die skrywers en wanneer is die boeke geskryf

Soos reeds genoem het verskillende skrywers, van skaapwagters tot konings, oor ʼn tydperk van meer as 1,200 jaar, die boeke wat vandag in die Bybel opgeneem is, geskryf. Net ʼn Goddelike wonderwerk kon veroorsaak dat al hierdie verskillende boeke, oor so ʼn lang tyd, en deur verskillende skrywers, steeds een en dieselfde boodskap en begrip van God kon bevat! Hierdie skrywers het, onder andere, profete soos Moses, Daniël en Jesaja, geleerde mense soos Esra, konings soos Dawid en Salomo, en die apostels van Jesus Christus soos Petrus en Paulus, ingesluit.

   Lank voordat die drukkuns uitgevind is, is hierdie geskiedenis mondelings van geslag tot geslag oorgedra, van ouers tot kinders, leiers van die gemeenskap, priesters en selfs storievertellers. Op 'n stadium is hierdie vertellings in skrif neergeskryf, maar omdat die materiaal waarop die skrywers van daardie tyd geskryf het ná 'n tyd vergaan het (bv. papirusrolle), was dit deur die jare nodig om die tekste oor te skryf.

Met hierdie oorskrywings het daar sekerlik sekere van die oorspronklike tekste verlore gegaan, maar is die versameling boeke, waaruit die Ou Testament bestaan,  teen die einde van die 1ste eeu n.C. vasgestel en het dit, behalwe met enkele kleinere aanpassings,  tot vandag toe onveranderd gebly. Die boeke van die Ou Testament is hoofsaaklik gedurende die 6de eeu v.C. deur die Joodse ballinge in Babilon versamel en geredigeer.

Aangesien die Nuwe Testament hoofsaaklik in die tweede helfte van die 1ste eeu n.C. geskryf, kan die meeste Nuwe-Testamentiese boeke meer akkuraat gedateer word. Minder as 'n eeu nadat die Nuwe-Testamentiese boeke geskryf is, is dit deur die breë Christen gemeenskap as gesaghebbend beskou, en teen die einde van die 4de eeu n.C. is die boeke van die Nuwe Testament amptelik deur die kerk as gesaghebbend verklaar. (gekanoniseer)

Afgesien dat baie van die oorspronklike manuskripte van die Bybelboeke lankal vergaan het (as gevolg van die bederfbare aard van die antieke papirusrolle), bestaan daar steeds duisende Ou-Testamentiese manuskripte en fragmente van manuskripte wat van reg oor die antieke wêreld kom. Tot op hede is daar reeds meer as 5,000  manuskripte en fragmente van manuskripte van die Nuwe Testament wêreldwyd ontdek.

'n Goeie voorbeeld van antieke manuskripte (wat ook die betroubaarheid van die teks van die Ou Testament bevestig), is die Dooie See-rolle wat van die 3de eeu v.C. tot die 1ste eeu n.C., dateer.

Die Dooie See-rolle is ʼn versameling van 972 tekste van die Hebreeuse Bybel, asook ʼn versameling ander Bybelse dokumente, wat tussen 1947 en 1956 naby Qumran, aan die noord-westelike oewer van die Dooie See, ontdek is.



DOOIE SEE  BOEK ROLLE   -    PSALMS ROL



 



                                  Eerste Deense vertaling van  Die Bybel. Gedruk in Copenhagen, 1550.
  


5. Die eerste Nederlandse Bybel

Voor die Sinode van Dordrecht, was die Nederlandse vertaling van die Bybel, wat hoofsaaklik ʼn vertaling uit ander Europese vertalings was, die enigste Bybel wat algemeen in Nederland gebruik was.

Tydens die sitting van 1618/1619, het die Sinode gevoel daar behoort ʼn nuwe verbeterde vertaling van die Bybel uit die oorspronklike Hebreeuse en Griekse tale te wees, en is die State Generaal van die Verenigde Nederlande versoek om so ʼn vertaling van stapel te stuur.

In 1626 aanvaar die State Generaal die Sinode se versoek en in 1635 word die vertaling afgehandel. In 1637 keur die State Generaal die publikasie van die Bybel goed, en tot en met 1657, was daar reeds meer as ʼn half miljoen Bybels gedruk en versprei.

Die volgende voorbeeld van die Nederlandse Statebybel is die van ʼn Bybel wat in 1654 in Amsterdam gedruk is deur ene Paulus Aertsz van Ravelstein. 

Op die Titelblad van die Bybel verskyn die volgende inskrywing:
    
“Biblia, dat is de ganfche H. Schrifture, vervattende alle de Canonijcke Boecken des Ouden en des Nieuwen Testaments, Door laft der Hoogh-Mog: Heeren Staten Generael van de  Vereenighde Nederlanden en volgens het Befluyt van de Synode Nationael, gehouden tot Dordrecht in de Iaren 1618 en 1619, Uyt de Oorfpronckeljcke talen in onfe Nederlandfche tale getrouwelijck overgefet ... In 't Iaer с I э. 1 э. c.  LIV." 

Die 1637 Nederlandse State Bybel was ook die enigste Bybel wat deur Afrikaans-sprekendes in Suid Afrika gebruik is tot en met die eerste Afrikaanse vertaling van die Bybel in 1933. Die eerste Afrikaanse vertaling van die Bybel is uitgegee op 27 Augustus 1933.




















Die Apokriewe Boeke



                                                                  APOKRIEWE - EVANGELIE VAN BARTOLOMEUS





APOKRIEWE  - HANDELINGE VAN  FILIPPUS  EN PETRUS


oudste BESTAANDE bybels


1. CODEX VATICANUS





Die Codex Vaticanus is ʼn Griekse vertaling van die Bybel (Septuagint) en word in die Vatikaan Biblioteek in Rome bewaar. Die manuskrip dateer uit die middel van die 4e eeu n.C.



                   
                     Gedeelte uit die Codex Vaticanus. - Johannes Hfst.8

                           Gedeelte uit die Codex Vaticanus Matt. 11: 8-10

Bron:  CATHOLIC ENCYCLOPEDIA



2. CODEX SINAITICUS


























Die Codex Sinaiticus is ook ʼn Griekse vertaling van die Bybel (Septuagint) wat uit die 4e eeu n.C. dateer en is in 1844 deur ene Constantine Tischendorf, in die St. Catharins klooster in Sinai ontdek.

Die Codex Sinaiticus bestaan uit vier afsonderlike manuskripte wat elk afsonderlik in die Britse Nasionale Biblioteek in London, Biblioteek van die Universiteit van Leipzig in Duitsland, Keiserlike Biblioteek in Saint Petersburg (Rusland) en die oorblywende gedeelte nog in die St. Catharins klooster in Sinai, bewaar word. Alhoewel die vier manuskripte die volledige Ou- en Nuwe Testament bevat, is dit nooit as ʼn enkele bundel (Bybel) gepubliseer nie. 




Foto van een van die bundels van die Codex Sinaiticus in die Britse Nasionale Biblioteek

Bron:  CATHOLIC ENCYCLOPEDIA



Die Bybelse Paradigma


Inleiding

ʼn Pragmatiese benadering (beskouing) van die Bybel soos hierdie, verg sekerlik ʼn aanpassing in ons tradisionele Calvinistiese benadering en begrip van die Bybel. Meer ondersoekend en minder fundamentalisties; Meer prakties en minder dogmaties. Hierdie artikel handel oor presies net dit:  ʼn Praktiese beskouing.

Die Verklarende Handboek van die Afrikaanse Taal definieer “pragmatisme” as: “Filosofiese rigting wat die waarde van ʼn bewering uitsluitend volgens sy praktiese belang vir die mens beoordeel”

Net soos ʼn prisma benodig word om die wonderlike kleure van die reënboog in ʼn enkele ligstraal bloot te lê, net so verg dit ʼn ondersoekende gees en ʼn opmerksame oog om die verborge waarhede van die Ou Testament bloot te lê.   

Robert Louis Stevenson (1850 – 1894) het by geleentheid gesê: “Written in the East, these characters live forever in the West; written in one province, they pervade the world; penned in rude times, they are prized more and more as civilization advances; product of antiquity, they come home to the business and bosoms of men, women and children in modern days. Then, is it an exaggeration to say that the “characters of Scripture are a marvel of the mind?”

In die Sondagblad, Rapport van 13 Maart 2011, sê Dr. Frits Gaum van Kaapstad: “As die NG Kerk nie radikaal verander nie, gaan hy nie die wederkoms beleef nie.”

Net soos wat ʼn eng fundamentalistiese (onverdraagsame, letterlike) siening van die Bybel aan die een uiterste, of ʼn ontoegeeflike dogmatiese benadering daarvan aan die ander uiterste, ewe verkeerd sal wees, behoort – volgens Dr. Gaum - die kerk meer inskiklik te wees as dit kom by kwessies waar twyfel en onsekerheid ʼn groter mate van begrip en toegewendheid vereis. 

In hierdie artikel word daar gepoog om aan te toon dat, wanneer ons die Bybel vanuit ʼn meer praktiese (pragmatiese) perspektief benader, sekere van die kern-waarhede wat ons miskien vandag as Nuwe Testamentiese evangelie beskou, alreeds eeue gelede in die Ou Testament gevestig en gewortel is.

Kern Waarhede uit die Ou Testament

1. Die Mens kan slegs deur Geloof gered word

God was van die begin af nog altyd in beheer van die skepping, maar geen enkele van God se skeppinge het oornag ontstaan nie. In sekere gevalle het die skepping miljoene en selfs biljoene jare geduur. Net so het die uiteindelike skepping van die “mens” ook nie oornag plaasgevind nie, maar is dit eers na miljoene jare voltooi.

Die skepping en gevolglike ontwikkeling van die mens na die beeld van God (Gen. 1: 26), kom tot volle gestalte met die woorde: “Die mens het nou soos een van Ons geword….”  (Paulus beskryf hierdie “beeld van God”, as ʼn geestelike, eerder as fisiese beeld in 1 Kor. 15: 44)

Met die sondeval het daar gevolglik twee belangrike dinge gebeur: (1) Die ontwikkeling van die mens, soos wat ons die mens ken en verstaan, (wat reeds miljoene jare van tevore begin het) kry finale beslag, en (2), die intieme vlekkelose verhouding tussen God en die mens word deur die sondeval vernietig en daar ontstaan verwydering (skeiding) tussen God en die mens.

ʼn Nuwe verhouding tussen God en die mens kom tot stand. Met sy nuut gevonde morele gewete en vermoë om te redeneer, moet die mens nou self kies tussen reg en verkeerd; tussen geloof en ongeloof. Die mens het verstand gekry…..nou moet hy dit gebruik om self ʼn keuse te maak. God besluit nie meer vír die mens nie!

Slegs deur gehoorsaamheid aan die Wet van God (ou verbond) en geloof in Jesus Christus (nuwe verbond), kan die mens van die straf vir die sonde, naamlik die dood, gered word. Hierdie is egter ʼn keuse wat God uitsluitlik aan die mens oorlaat, nadat Hy in die Nuwe Testament, aan die mens al die moontlikhede en opsies duidelik en ondubbelsinnig uitspel.

In God se verbond (ooreenkoms) met die mens is daar geen “small print” nie!

2. God is almagtig en daarom moet ons Hom volkome vertrou

Die grootste enkele waarheid wat die Ou Testament ons leer is sekerlik dat ons onder alle omstandighede, God ten volle en onvoorwaardelik moet vertrou. God sal ons nooit nie in die steek laat nie, maar wat ons miskien nie elke dag raaksien nie, is dat God nêrens in die Ou Testament Sy kinders gehelp het deur hulle uit ʼn krisis situasie weg te neem nie, maar dat Hy altyd by Sy kinders ín so ʼn situasie was.

God het nie vir Daniël uit die leeukuil verwyder nie, maar was deurgaans by hom ín die leeukuil. In Dan. 6: 24 lees ons –“Toe Daniël uit die leeukuil gehaal is, was daar geen letsel aan hom nie, omdat hy op sy God vertrou het.” Net so het God ook nie sy vriende, Sadrag, Mesag en Abednego uit die brandende oond weggeneem nie, maar was deurgaans by hulle ín die oond. Soveel so dat “jy nie eens kon ruik dat hulle in die vuur was nie.” (Dan. 3: 27)

God kon so maklik Daniël en sy vriende uit hulle krisis situasies weggeneem het, maar God doen dit nie. Hy gaan sáám met hulle in hulle beproewing, op so ʼn manier dat hulle niks daarvan oorkom nie.

Net so was God by Noag en sy familie tydens die sondvloed; saam met Moses toe hy die farao moes gaan vra om die Israeliete te laat trek; saam met die Israeliete toe hulle nie kos en water gehad het nie, en saam met Josua toe hulle die beloofde land in besit moes neem. Daar bestaan nog talle soortgelyke voorbeelde in die Ou Testament, maar die kern waarheid van elk bly elke keer dieselfde: God neem ons nie uit ons omstandigheid weg nie, maar is saam met ons ín ons omstandigheid, op so ʼn wyse dat die vuur van ons beproewing nie eens die hare op ons koppe sal skroei nie.

In Matt.14 : 28 lees ons hoe Petrus vir Jesus gevra het om hom te beveel om op die water na Jesus toe te loop. Maar dan word Petrus bang en begin sink, en in vers 31 sê Jesus vir hom: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

God verwag van ons dat, maak nie saak wat ons omstandighede mag wees nie, ons Hom volkome en sonder voorbehoud sal vertrou en nooit sal terugdeins nie!

Elke keer wanneer die Israeliete aan God se voorsienigheid begin twyfel het, het daar sonde en afvalligheid ingetree en dan het God telkens sulke afvalligheid swaar gestraf.

3. God se Raadsplan

Van die heel begin af (nog voor die oer-knal) bestaan God se onveranderlike raadsplan met die skepping en niks en niemand sal toegelaat word om dit te veroordeel of te kritiseer nie. Sonde ís egter om teen die wil van God op te tree.

In Eksodus lees ons op ʼn paar plekke hoedat Moses telkens vir sy volk gepleit het wanneer hulle in opstand gekom het teen God, en hoedat God hulle elke keer vergewe het, maar nêrens lees ons dat God hulle sondes totaal ongestraf gelaat het nie. Selfs Moses moes die straf vir sy ongehoorsaamheid dra. (Num.20: 12)

Anders as in die geval met die Israeliete, ontvang die mens onder die nuwe Verbond nie noodwendig die straf vir sy sonde alreeds hier en nou op aarde nie, inteendeel, soms wil dit voorkom of dit juis die goddeloses en onverskilliges is wat floreer en met wie dit altyd goed gaan!

In die Nuwe Verbond dra Jesus die straf vir ons sonde en pleit Hy, soos Moses van ouds, vir ons by God, sodat ons vrygespreek kan lewe. Maar vir hulle wat in die sonde volhard, beloof Jesus dat Hy met Sy wederkoms, God se volle oordeel met Hom sal saambring. (Op. 22: 12)

In wese is die hele boodskap van die Bybel, van Genesis tot Openbaring, gerig op die toekomstige heerlikheid by God;  Hierdie wêreld is nié ons uiteindelike bestemming nie!

4. Die boodskap van die Bybel

In veral die charismatiese teologie word baie van die Nuwe Testamentiese voorskrifte en leerstellings vandag op so ʼn wyse interpreteer dat dit by die sogenaamde ‘veranderde omstandighede van ʼn moderne samelewing’, kan aanpas. Veral nog as sulke voorskrifte verleentheid of ongerief by hulle lidmate veroorsaak!

Selfs in die gereformeerde teologie hoor ons dikwels dat sekere bepalinge van die Nuwe Testament by die veranderlike vereistes van die moderne samelewing moet aanpas, ten einde te verseker dat die Kerk steeds relevant bly. Nuwe Testamentiese voorskrifte soos die volgende word deesdae as minder ernstig beskou, terwyl die onaanvaarbaarheid daarvan nie meer summier veroordeel word nie:
Ø        “Die getroudes bevel ek – nee, nie ek nie, maar die Here – dat ʼn vrou nie van haar man mag skei nie. Net so mag ʼn man ook nie van sy vrou skei nie.”
(1 Kor. 7: 10). (behalwe in die geval van ontrouheid van die een of die ander       party)
Ø       “Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is.” (Efe. 5: 22)
Ø        “Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself lief het, en ʼn vrou moet aan haar man eerbied betoon” (Efe. 5: 32)
Ø        “Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het” (Hebr.13: 5)
Ø        “Oordeel julle nou maar self: is dit betaamlik vir ʼn vrou om sonder iets op haar kop in die erediens tot God te bid?” (1 Kor 11: 13)
Ø       “Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe.” (1 Petr. 3: 7)
Ø       “Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen 'n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.” (Lev. 20: 13)

Wanneer dit by die bepalings van die Ou Testament kom, vind ons weer dat sommige teoloë die skeppingsverhaal, die sondeval, die sondvloed, die uittog uit Egipte en  vele ander gegewens van die Ou Testament, bloot as historiese agtergrond sien. Gevolglik word hierdie gegewens vrylik volgens menslike oordeel vertolk en geïnterpreteer. Populêre verduidelikings soos die volgende word verhef tot teologiese standpunte, wat op hulle beurt weer dien as grondslag van ʼn wye verskeidenheid teologiese dogmatiek.

Ø        “Die jaartelling van die Ou Testament is nie wetenskaplik korrek nie.”
Ø        “Die geslagsregisters in die Ou Testament is nie noodwendig betroubaar of korrek nie.”
Ø     “Inligting oor die ouderdomme en lewensduurtes van die geslagte na Adam kan nie as feitelike inligting aanvaar word nie.”
Ø        Sekere gebeure, soos onder andere die Uittog uit Egipte, is bloot persoonlike verdigsels, met die doel om die leser van God se almag en voorsienigheid te oortuig. 

Oor Genesis 3: 22 skryf die Afrikaanse verklarende Bybel: “Daar is moontlikhede in die mens losgemaak, en daarom verhoed God dat die mens in sy sondaars bestaan, wat deel van dié nuwe moontlikhede is, altyd bly lewe deur van die vrug van die boom van die lewe te eet.  Die Bybel ken wel die moontlikheid van word soos een van Ons, maar dit lê op die weg van gehoorsaamheid aan die opdrag van die Here, nie in opstand teen Hom nie.”

Die vraag ontstaan onwillekeurig: Is dit inderdaad die boodskap wat die skrywers van die Pentateug, aan ʼn prakties ongeletterde volk, 560 jaar v.C. wou oordra? En wat van ons, wat vandag in die jaar 2011 leef. Moet hierdie selfde boek (ontwikkeling ten spyt) aan ons ʼn verskillende boodskap oordra?

Deur die eeue heen het die Bybel nog altyd gesê wat dit bedoel, en bedoel wat dit sê. Ons mag nie ‘namens’ die Bybel praat nie want God, alleen, is die outeur van die Bybel.

Oor-verteoretisering (dogmatiek) kan veroorsaak dat die Bybel uiteindelik net deur ʼn paar hoogs gekwalifiseerde teoloë verstaan sal kan word.

Die boodskap van die Bybel het nog nooit verander nie en het deur die eeue heen nog altyd dieselfde gebly. Wat ons miskien nie altyd raaksien nie, is dat dit wat ons vandag as “hedendaagse omstandighede” beleef, maar slegs die moderne idioom van die Ou Testamentiese geskiedenis is. Die wêreld waarin ons leef het miskien verander (op die gebied van die tegnologie, elektronika, vervoer, wetenskap ens.) maar die menslike natuur het nog nooit verander nie. Die mens is nog altyd dieselfde sondige en afvallige wese van ouds en sy verlossing en redding is nog altyd loutere genade!

Voordat ons probeer om die Bybel aan te pas om aan die behoeftes van die hedendaagse mens te voldoen, moet ons eerder weer ʼn slag indringend na onsself kyk en vir onsself die vraag afvra – Wat maak ons enigsins anders as die mens van die Ou Testament?   “Die Bybel is nie oud of modern nie. Dit is ewig.” – Martin Luther

Net soos Israel van ouds, behoort ons ook terug te keer na die onvoorwaardelike erkenning en aanvaarding van die Bybel as die enigste en ware Woord van God. Suiwer en onverdund!  (undiluted)   

5. Die ontstaan van die Bybel 

Die eerste Joodse Bybel (Tora) was meer ʼn “wet boek” as wat dit ʼn Bybel was, en het hoofsaaklik bestaan uit die vyf “Boeke van Moses” (Pentateug). 

Die woord “Pentateug” kom van die Griekse word penta, wat vyf beteken, en teuchos, wat boek beteken. Oorspronklik was daar moontlik ook verwys na die “Hexateuch” (hexa wat ses beteken) aangesien die boek Josua algemeen met die boeke van Moses geassosieer was. Eers na die Israeliete se terugkeer uit ballingskap, is die ander boeke by die Tora bygevoeg. Behalwe vir die Psalms van Dawid en die Spreuke en Hooglied van Salomo, weet ons vandag steeds nie wie die skrywers van die Ou Testament was nie. Wat ons wel weet is dat die Pentateug gedurende die tyd van die ballingskap geskryf is en dat die res van die Bybel daarná bygevoeg is. Die tydperk ná Konings, tot en met die koms van Christus, ʼn tydperk van nagenoeg 400 jaar, word ook nie in die Bybel beskryf nie en behalwe vir die geskiedenis soos dit opgeteken is in die Ou Testamentiese Apokriewe, 1 en 2 Makkabeërs, weet ons van hierdie tydperk ook maar bitter min. Daar kan egter met veiligheid aangeneem word dat die skrywers van die Ou Testament nie gekwalifiseerde akademici of teologiese hoogleraars was nie. Hierdie skrywers het nog nie geweet wat evolusie, geologiese tyd skale, pluralisme, monisme en dergelike –ismes is nie!
 
Al wat hierdie skrywers wou doen was om die mondelinge oorgelewerde geskiedenis en Bybelse leer so korrek en getrou moontlik op skrif vas te lê. Op hierdie wyse kon dit met die volk gedeel word, en kon God se boodskap aan die mens vir die nageslagte behoue bly.

Daar bestaan selfs denkrigtings wat wil beweer dat die Bybel in “kode” geskryf is, aangesien die skrywers bang was vir vervolging deur die owerhede van daardie tyd. Indien daar wel diesulkes was, dan is hulle geskrifte verseker nie in die Bybel opgeneem nie!

Ons moet onthou dat hierdie skrywers diep gelowige mense was wat, onder leiding van die Heilige Gees, God se boodskap aan die mensdom in skrif vasgelê het. Hierdie skrywers het hulle nie laat afskrik deur die dreigemente van die owerhede nie en was bereid om te lei en selfs te sterf vir hulle oortuigings en geloof. Paulus is gemartel; Petrus is gekruisig; Stephanus is gestenig; Timoteus was ʼn gevangene, en so het baie ander ʼn martelaars dood gesterf vir hulle geloof in die God van die Bybel.

In 2 Kor. 1: 13 sê Paulus : “In ons briewe skryf ons aan julle niks wat julle nie self kan lees en verstaan nie.”

Die Bybel is NIé in een of ander “kode” geskryf nie! Verskeie skrywers, van skaapwagters tot konings, het bykans 1,200 jaar lank, honderde en selfs duisende “Bybelse” manuskripte (boeke) geskryf, waarvan net 66 in die Bybel opgeneem is. Laasgenoemde word na verwys as die kanonieke boeke. [39, Ou Testament en 27, Nuwe Testament] – Oorgeneem van die Griekse word “kanon” wat reël of rigsnoer beteken. Net ʼn Goddelike wonderwerk kon veroorsaak dat soveel skrywers, oor so ʼn lang tydperk, soveel boeke kon skryf, met één en dieselfde sentrale boodskap en begrip van God!

Vir die Israeliete van ouds (én vir ons wat vandag leef) sou die Bybel van geen nut of waarde gewees het, as dit in een of ander kriptiese kode of idealistiese dogmatiek geskryf was.

God, en net God alleen, is die outeur van die Bybel!

Angus Buchan, die bekende Suid Afrikaanse evangelis, het by geleentheid gesê; “die Bybel is Jesus in gedrukte vorm”  (“Jesus in print”)

6. Ons kennis en begrip van die Bybel

By geleentheid van die aflegging van hulle openbare belydenis van geloof, bely duisende jongmense jaarliks hulle geloof in Jesus Christus en dat die leer, soos dit vervat is in die Ou en Nuwe Testament en in die artikels van die Christelike geloof, die ware en volkome leer van die verlossing is. Die vraag is egter: Hoe eg is hierdie belydenis, siende dat daar vandag so baie belydende jongmense is wat ernstig worstel met soveel onsekerhede en vrae oor die Christelike geloof en die Bybel. Daarbenewens het die meeste van ons jongmense nog nooit eers die belydende geskrifte gesien nie, laat staan nog gelees!

Die drie Al’s. AL die antwoorde, op AL ons vrae, is ALreeds in die Bybel; ons moet net die Heilige Gees self vra om die Bybel vir ons te open elke keer wanneer ons dit lees!  Luk. 24: 45: ”Toe open Hy hulle verstand om die skrif te verstaan.” en Hebr. 4: 12:Die woord van God is lewend en kragtig … Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart”  In Matt. 11: 25 sê Jesus – “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het.” 

Hoeveel maal het dit al met jou en my gebeur dat ons ʼn sekere gedeelte of hoofstuk in die Bybel al oor en oor gelees het, totdat ons naderhand elke woord en vers daarvan uit ons koppe ken, en ons oortuig voel dat ons verstaan wat daar geskryf is. En dan op ʼn goeie dag lees ons weer diesélfde gedeelte, maar die keer is dit anders.   Meteens is dit of die teks vir ons ʼn héél nuwe en diepere betekenis kry, en vir die eerste keer verstaan ons regtig wat die Skrif vir ons wil sê. Dit is wat ek bedoel met die Here vra dat Hy self vir ons die Bybel “oopmaak” ; dat Hy self vir jou en my die betekenis van die Skrif uitlê (openbaar).  Dan eers kry die Bybel vir ons wáre betekenis en kan ons werklik groei in die geloof. In Jer. 33: 3 sê die Here vir Jeremia: “Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.”

Ons hoef nie almal predikers te wees om die Bybel met insig en begrip te lees nie!  Al die ingewikkelde teoriё oor sogenaamde kodes en dualisme en monisme en pluralisme en al die ander –ismes wat daar mag bestaan, beteken uiteindelik nie veel, as God nie self vir ons die Bybel open nie!

Maar dit beteken egter nie dat ons sonder die bediening van die Woord kan klaarkom nie. Paulus sê self in Rom. 10: 14 – 15   “En hoe kan jy van Hom (Jesus) hoor sonder iemand wat preek?  En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie?”  Net soos God geneeshere gebruik om mense te genees, gebruik God Leraars om die Skrif, vir my en jou, te open en uit te lê.  Artikel 11.1.2 van die Kerkorde van die NG Kerk verklaar dan ook dat die Bybel “nie só maklik is om te verstaan, dat enige mens selfstandig en onmiddellik alles daarin kan begryp nie.” Die Engelse King James Bybel stel dit so mooi in Rom 10: 17 – “……faith cometh by hearing, and hearing by the word of God.”

Ons moet ook in gedagte hou dat, vir die Israeliete van ouds, wat vir meer as ʼn duisend jaar onder die wet van Moses geleef en geleer het, die Christelike Evangelie totaal vreemd en onverstaanbaar (moontlik selfs verwerplik en vermybaar) moes wees. Vir eeue lank is die volk onderrig in die wet van Moses en die gevolge wat dit sal inhou as die wet nie nougeset nagekom word nie. Hier kom iemand wat vir hulle sê dat Hy die Seun van God is en dat Hy gekom het om die volk van hulle sondes te vergewe en vry te maak van die dwingelandy van die wet.

Iemand wat die skrifgeleerdes en die Fariseërs, wat die gesag gehad het om die wet van Moses te vertolk en uit te lê, huigelaars, addergeslag en witgeverfde grafte te noem! (Matt.23)

Baie van Jesus se uitsprake was, onder die Mosaïese wet, selfs strafbaar met die dood!

Lees bv. Deut. 17: 12 m.b.t. die uitspraak van Jesus oor die Fariseërs in Mat. 23.

Moontlik kan die volgende scenario skets, wat geensins as disrespekvol bedoel is, die Godsdienstige veroordeling van die Christelike Evangelie, deur sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs van daardie tyd, prakties illustreer:

Scenario skets

(Stel jouself voor: Dit volgende gebeur vandag, in 2011; Christus het nog nie aarde toe gekom nie; die Nuwe Testament is nog nie geskryf nie, en ons leef nog onder die wet van Moses)


Nuusberig op SATV

“Goeienaand. Dit is sewe uur en hier volg die nuus, gelees deur Riaan Cruywagen.

Uit Bloemfontein word berig dat die seun van God gisteraand in die omgewing van Bethlehem, in die Vrystaat, gebore is.

Volgens ons medewerker op dié dorp, was die kindjie se ouers, Josef en Maria, op pad van Kestell na Bethlehem om die Regering se jongste sensus vorms te voltooi, toe Maria onverwags in kraam gegaan het. Gelukkig kon die paartjie egter ʼn koeistal van Mnr. Koos van der Merwe, ʼn melkboer van die distrik, te hure kry voordat die kleinding sy opwagting gemaak het. Maria, moes noodgedwonge die voerkrip as ʼn wiegie vir die baba gebruik.

Volgens Maria is haar verloofde, Josef, egter nie die baba (ʼn seuntjie) se biologiese vader nie, aangesien hulle nog nooit gemeenskap gehad het nie en sy, volgens haar huisdokter, nog ʼn maagd was. Maria beweer dat sy deur ʼn bo-natuurlike mag swanger geword het!  Sy het vir ons verslaggewer gesê hulle gaan die seuntjie Jesus noem.

Drie Hoogleraars, wat deur die Nasionale Regering afgevaardig was om hulle persoonlik van dié buitengewone bevalling te vergewis, het tydens ʼn onderhoud met die SAUK beweer dat die baba die toekomstige wêreld-heerser is, en dat daar nog groot dinge van hom in die toekoms verwag word.

Volgens ʼn Regerings woordvoerder, het die drie geleerdes egter versuim om na die Regering terug te keer ten einde verslag te doen oor hulle bevindinge. Soos verneem word is die Regering ernstig bekommerd oor ʼn moontlike toekomstige staatsgreep, en die weermag is vanoggend reeds opdrag gegee om alle seuntjies jonger as twee jaar in Bethlehem en omgewing, dood te maak. Die Josef gesin kon egter daarin slaag om betyds uit die omgewing weg te kom en skuil glo iewers in ʼn buurland.

Ons waarsku sensitiewe kykers dat die volgende insetsel ontstellende beeldmateriaal van die kinder-moord bevat.”

NS.
“My regisseur deel my nou net mee dat al die Korporasie se telefoonlyne reeds oorlaai is met oproepe van ontstoke kykers ....... ʼn Mens wonder waaroor hulle nou eintlik so ontstoke is?” 
 
SOU JY DIE NUUS GLO?

Dit is te verstane dat daar dié was wat Jesus wou doodmaak, eerder as om Hom as verlosser en Saligmaker aan te neem!

Temper altyd jou oordeel met verdraagsaamheid.




7. Die Nuwe Tyd

In die Ou Testament word die geskiedenis van God se skepping en Sy wil en doel met die mens op aarde, volledig beskryf. Aan die sondige mens, wat die ewige vervloeking verdien, betoon God Sy genade en barmhartigheid deur Sy seun na hierdie wêreld te stuur om die straf vir ons sondes, deur sy aller bitterste lyding en sterwe, te dra. Die tyd van die nuwe verbond (Nuwe Testament) breek aan.

God se wil met die Mosaïese wet, word volkome bereik met die kruisiging van Jesus Christus. Jesus se laaste woorde op aarde as mens, voordat Hy aan die kruis op Golgota sterf was: “DIT IS VOLBRING”. (Johannes 19: 30) In Jesus bereik God se verbond met Moses, sy volmaakte einde – God se vorige (ou) Testament is uitgevoer (volbring).

Na die kruisiging breek die eindtyd aan (die tyd waarin ons vandag leef), en nou geld die liefde vir God en medemens, as die enigste maatstaf vir die vervulling van die Wet   LW. Die vervulling van die Wet; nie die afskaffing daarvan nie!  (Matt. 5: 17-18 en Matt. 22: 37-40). 

Die “eindtyd” moét nie nog aanbreek nie; dit het reeds aangebreek! Die mens leef alreeds vir bykans 2000 jaar in die eindtyd, of soos Jesus dit noem: “die begin van die nuwe tyd”. Die Antichris, die dier wat uit die see sal kom, die dier wat uit die aarde kom, almal bestaan alreeds sedert die koms van Christus!  In Matt. 24: 34 sê Jesus uitdruklik: “Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur.” Oor Sy wederkoms sê Jesus egter self: “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.” (Matt. 24: 36) Die eindtyd en Jesus se wederkoms, moet nie met mekaar verwar word nie. Die eindtyd bestaan reeds en Jesus se wederkoms sal die laaste gebeurtenis van die eindtyd wees. Alles wat intussen gebeur sê Jesus, is geboortepyne, die begin van die Nuwe Tyd. (Matt. 24: 8)

Die belangrike is om altyd waaksaam en gereed te wees. Om áltyd gelowig en gehoorsaam te leef, sodat ons nie onverhoeds betrap word nie! In 2 Pet. 3:10 staan daar geskrywe: “Maar die dag van die Here sal so onverwags soos ʼn dief kom. En op dié dag sal die hemel met ʼn groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan. (Sien ook Matt. 24: 29)

8. Die “Wet van Jesus

In plaas van die 613 bepalings van die wet van Moses, bevat die Wet van Jesus nét twee gebooie:   “Jy moet die Here jou God liefhê met jou  hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (in Mark. 12: 30 word “- met al jou krag”, bygevoeg) en “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete  saamgevat”  (Matt. 22: 40) Die oorsprong van beide hierdie gebooie vind ons in die Ou Testament! Die eerste in Deut. 6: 5 - “Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.” en die tweede in Lev. 19: 18 – “Jy mag nie wraak neem of ʼn grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Behalwe vir die afskaffing van alle seremoniële offers (Sien Hebr. 10: 5 tot 10), en die besnydenis, het God sélf nooit enige gedeelte van Sy Wet herroep of gewysig nie. Dit is die méns wat reeds eeue lank, daardie bepalings van die Wet van God wat, volgens die mens, nie meer relevant was vir die tyd waarin hulle geleef het nie, “herroep” of gewysig het! ( Lees gerus weer Mat. 5: 17-18)   
Die Wet van God is nie saam met Jesus gekruisig nie!

Die Ou Testament gee vir ons alles wat nodig is om die almag en grootsheid van God te verstaan. Die Nuwe Testament gee vir ons alles wat nodig is om die liefde en genade van God te verstaan. Wanneer ons alles uit opregte geloof; in opregte vertroue (hoop); en met opregte liefde, doen, dan ís die Wet van God in ons harte, en sal ons voldoen aan die ‘Wet van Jesus’.  Lees nou weer 1 Kor. 13 en besluit dan self!   

9. Instelling en Beseëling van die Ou en Nuwe Verbond

Beide die Ou- en Nuwe Verbond is met bloed beseël.
M.b.t. die instelling en beseëling van die Ou Verbond, lees ons in Eks. 24: 7   “Hy, (Moses), het die verbondsboek geneem en dit vir die volk voorgelees. Hulle het gesê: “Ons sal alles doen wat die Here beveel het en daaraan gehoorsaam wees.” en in vers 8: “Moses het toe die bloed gevat en op die volk gesprinkel terwyl hy sê: “Dit is die bloed van die verbond wat die Here op grond van al hierdie gebooie met julle gesluit het.”  Volgens Eks. 24: 5 was dit die bloed van bulle gewees.
In Hebr. 9: 13 lees ons, “Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ʼn vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein.” maar oor die beseëling van die Nuwe Verbond lees ons ook in Hebr. 9: 12, “Met Sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ʼn ewige verlossing tot stand gebring. 
1 Kor. 11; 23 tot 26 -   “ Die Here Jesus het in die nag waarin hy oorgelewer is, brood geneem, en nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê:  ‘Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis’. Vers 25: “Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê:  ‘Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.’ en vers 26: “Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom"

Hebr. 10: 14 “Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.”

Dat daar bloed moes vloei, bevestig baie duidelik hoe ernstig God oor ʼn verbond van Hom is. 

Op die verhoog van die lewe speel die evangelie van Jesus af teen die agtergrond, “backdrop”, van die Pentateug, met die Ou Testament as die res van die dekor.

Slot

Die Bybel is nie 'n wetenskaplike teksboek of geskiedkundige handboek nie. Die Bybel is primêr 'n “Geloofsboek” wat met die uiterste respek en verootmoediging gelees moet word. Maar dit beteken geensins dat die historiese korrektheid daarvan, en/of die hedendaagse interpretasie daarvan, deur sogenaamde kundiges en geleerdes gewysig en aangepas kan word ten einde by die post modernesisme  aan te pas nie.

In my artikel, “Die Bybel, Handboek of Reëlboek” behandel ek die relevansie van die Bybel in die tyd waarin ons leef asook die onaanvaarbaarheid van sekere teoloë en teoretici se pogings om die Bybel te ver-dogmatiseer tot 'n geskrif wat net deur spesialiste en geleerdes verstaan kan word. 

Die Bybel is God se persoonlike brief aan jou!






1 comment:

  1. Anonymous16 May, 2015

    Baie dankie vir 'n insiggewende en interessante tog deur die Bybel. Vir my is dit hartseer dat die doop en die belydenisaflegging deesdae so afgewater word, om nie eers van die kategese te praat nie. Te dikwels lees iemand (selfs die dominee) 'n Bybelvers raak en "hardloop weg" daarmee, sonder om die konteks raak te sien of om dit met ander skrifgedeeltes te vergelyk. Myns insiens bied die drie gereformeerde belydenisskrifte (3 formuliere van eenheid) vir 'n mens die geleentheid om die Skrif met die Skrif te verklaar, deurdat dit verskillende skrifgedeeltes onder een onderwerp bymekaarbring. Omdat hierdie belydenisskrifte heeltemal in onbruik verval het (ten minste hier in ons omgewing) gebeur dit te dikwels dat dwaalleringe insluip en selfs intelligente mense daarvoor val. Hosea 4:6 raak al hoe meer van toepassing: "My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis." en ook Rigters 17:6 "elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë."

    ReplyDelete